Mathys Roets moes Maandagaand om 18:00 op die plaas Jules of the Karoo sing. Op pad daarna het sy motor egter probleme begin gee toe hy op ‘n kortpad langs ‘n treinspoor beland het. Omdat hy geweet het niemand gaan hom daar gaan soek nie, het hy toe maar sy rolstoel uitgelaai en die pad só aangedurf…
Die bekende sanger vertel in ‘n plasing op sy Facebook-blad dat hy Maandagmiddag op pad na die plaas in Richmond sy afdraai gemis het en verdwaal het.
“Daar was natuurlik geen selfoonsein nie. Uiteindelik kry ek iemand wat my die pad beduie. ‘n Kortpad langs die treinspoor!”
Roets vertel hy het ongeveer 10 km met die grondpad langs gery toe sy motor se pens op die middelmannetjie begin skuur het. “En hy stop net daar. Dit is al skemer en ek weet niemand gaan my op die kortpad soek nie. Die enigste plan is om my rolstoel uit te laai en die pad te vat tot iewers waar daar meer karre ry.”
“Dis klipperig en my wiele is super dun en my voorwiele haak heeltyd vas wat beteken ek moet heeltyd ‘wheelie’,” vertel hy.
Roets vertel hy moes jaag om te keer dat die donker en die koue hom inhaal.
“Daar het wel een trein van voor af gekom en ek het probeer beduie: ‘HELP!’. Die drywer het blykbaar niks vreemds gesien in die feit dat ‘n ou in ‘n rolstoel alleen langs die treinspoor staan nie. Hy het net sy toeter geblaas en vriendelik gewaai asof hierdie ‘n alledaagse gesig is.”
Roets vertel hy moes elke nou en dan stop om sy gebreekte been te posisioneer om te keer dat hy afval. Hy het ook twee keer op groot klippe vasgesit en kon nie vorentoe of agtertoe beweeg nie.
‘n Liggie wat telkens in die meer as ‘n uur wat Roets op sy tog was, gekom en gegaan het, was toe ‘n motor wat tot sy redding gekom het.
“Ek stel myself nie eers voor toe hulle langs my stop nie, ek vra net waar kan ek inklim! Eers later gehoor dis Izak en Matthys.”
“Izak verduidelik dat die plaaswag-kameras my opgetel het. Hulle het hom laat weet daar is iets vreemds langs die treinspoor. Iemand ry stoksielalleen met ‘n rolstoel.”
Hy vertel in daardie stadium was ander mense in verskillende motors die kontrei vol om hom te soek.
Hulle het die 4 km na sy motor teruggery om Roets se kitaar te gaan haal en hy kon uiteindelik sing, “net so drie ure later en ‘n baie lang storie”.
“Ek sal graag wil weet of iemand al in die nag met ‘n gebreekte been en ‘n rolstoel so ‘n tog aangedurf het,” vra hy tong-in-die-kies.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



