Volgens Zinzi Hani, polisiewoordvoerder vir die Valke se direktoraat vir prioriteitsmisdade en ondersoekeenheid in die Wes-Kaap, het lede saam met misdaadintelligensie en -verkeer drie mans gearresteer vir die besit van ‘n besending kokaïne ter waarde van R400 miljoen.
Op 4 Augustus het die span inligting opgevolg ten opsigte van ‘n vragmotor wat na bewering dwelms vervoer het.
‘n Misdaadoperasie is op die N1-snelweg uitgevoer. Die vragmotor is by die Winelands Engen-vulstasie op pad in die rigting van Kaapstad gewaar.
Die vragmotor is onderskep en deursoek, waarna ‘n groot aantal dwelms binne vals houtkompartemente in die agterkant gekry is.
Drie mans, Ebrahim Kara (39), Meshack Mzungezi Ngobese (47) en Elias Radebe (42), het vandag in die Athlone-landdroshof verskyn op ‘n aanklag vir die besit van kokaïne.
Die beskuldigdes sal in aanhouding bly tot hul volgende hofverskyning vir ‘n formele borgtogaansoek op 15 Augustus.
Op die Facebook-blad van alderman JP Smith van die Wes-Kaap het hy die Valke gelukgewens met hierdie sukses en ‘n boodskap aan minister Bheki Cele gepos: “Dit is nou duidelik dat jy of nie verstaan wat jou rol is nie, of jy verstaan wel jou rol, maar weier om aksie te neem terwyl Suid-Afrika bloei.”
“Minister Cele, dit is tyd om ons land te red. Ons kan nie teruggaan nie, maar laat ons ten minste die toekoms verander.”
Smith het genoem hoe eenhede daagliks arrestasies uitvoer vir dwelms wat die Wes-Kaap binnekom om die bendes in die Wes-Kaap aan te hits. Hy stel puntsgewys voor wat hy dink moet gebeur van die minister se kant af en sluit dan af: “Laat ons die Suid-Afrikaanse polisiediens in die Wes-Kaap oorneem. Ons wil. Die mense wil hê ons moet. Die polisie hier wil ook hê ons moet.”
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



