‘n Oostenrykse dokter wat deur anti-vaxxers geteiken is vir haar openbare voorspraak ten gunste van die Covid-19-entstof het selfdood gepleeg.
Die 36-jarige Lisa-Maria Kellermayr is op 29 Junie dood in haar praktyk in Seewalchen gevind.
Haar praktyk is geleë in ‘n gedeelte met ‘n lae inentingsyfer en sy het gereeld kritiek op die anti-entstof-betogers gelewer.
Kellermayr, wat gereeld in die media aangehaal is oor haar uitspraak oor die pandemie en die belangrikheid van entstowwe, het maande lank doodsdreigemente en verbale mishandeling van aktiviste teen inentings ontvang.
Volgens Made for minds, word ‘n verdagte vir haatspraak ondersoek in verband met intimidasie wat Kellermayr voor haar dood moes verduur het.
Amptenare het gesê sy het glo ‘n selfmoordbrief gelos, maar het nie die inhoud daarvan bekend gemaak nie.
Die Oostenrykse president, Alexander van der Bellen, het die dokter as ‘n groot geneser geloof en ‘n beroep op die publiek gedoen om ‘n einde te maak aan die intimidasie.
Mense het hulself glo voorgedoen as pasiënte en tydens hul afsprake haar kantoor ontwrig. As gevolg hiervan het Kellermayr ongeveer R 1,7 miljoen bestee op veiligheidsmaatreels om haar pasiënte te beskerm en was sy op die rand van bankrotskap.
Kellermayr het aan die einde van Junie aangekondig dat sy tot verdere kennisgewing geen pasiënte meer sal sien nie.
Volgens Daniel Lanadau, wat ‘n gedenkdiens vir haar gereël het, kon sy dit nie waag om haar praktyk te verlaat nie.
‘n Joernalis, Ingrid Brodnig, sê daar is mense wat haar dood vier, en ander wat weer glo “die entstof het haar doodgemaak”.
“Daar bestaan wel wette teen aanlyn haatspraak, maar ongelukkig word daar nie genoeg gedoen om dit in werking te stel nie,” sê Brodnig.



