Die Sol Plaatje Ratepayers Union het jou hulp nodig om die stad reg te ruk.
SOPRU (Sol Plaatje Ratepayers Union) is amptelik in Augustus 2021 geregistreer na ‘n gesprek tussen die Gemeenskapsforum en plaaslike besorgde besigheidseienaars. Tumelo Mosikare is al van die begin af betrokke by dié unie. Hy sê die logiese ding om te doen vir diegene wat in verskillende hoeke gewerk het, is om hande te vat en saam te werk aan dieselfde probleem.
“Waar hulpbronne skaars was vir die Gemeenskapsforum, kon besighede help met vaardighede, ondervinding en die netwerk wat hulle het. Dit het sin gemaak om ‘n beter manier te vind om te verseker dat dienste gelewer word in plaas daarvan om net daarop te wys dat die werk nie deur die munisipaliteit gedoen word nie.”
Mosikare sê egter nou dat die unie nie kan voortbestaan sonder die gemeenskap se hulp nie.
Hy het voorheen aan Kimberley Online Co. gesê die unie beoog om die wettige roete te volg. “Ons het tot dusver R42 640 ingesamel om die munisipaliteit hof toe te vat te danke aan besighede en inwoners se bydrae.” Hy vertel die unie het reeds met ‘n prokureursfirma vergader oor die volgende stappe en dat die firma nou, sodra hulle al die nodige inligting het, ‘n skrywe aan die munisipaliteit sal rig.
Mosikare sê ook die unie is bewus van die munisipaliteit se skuld wat die R800 miljoen-merk oorskry het, waarvan R656,3 miljoen aan Eskom en R166 miljoen aan DWS verskuldig is.
Hy sê ook die unie het met die nuwe munisipale bestuurder vergader oor die munisipaliteit se plan om waterlekke en rioolprobleme in die stad op te los.
“Dit is egter nou duidelik dat SOPRU nie sonder bydraes van inwoners en besighede kan voortbestaan nie,” sê hy. “In ‘n kort tydjie het ons soveel druk op die munisipaliteit geplaas om hulle te kry om aan te pas en te luister. Ons kyk nou na moontlike maniere om saam met die munisipale bestuurder te werk om ‘n middeweg te vind en hy sal alle besluite en vordering vorentoe van sy kant af kan monitor.”
“As ons in so ‘n kort tydjie soveel vordering met die minimum bydraes kon maak, weet ons en glo ons dat ons met almal se samewerking hierdie stad ten goede kan verander.”
Mosikare sê die unie het slegs genoeg fondse om vir nog ‘n maand voort te bestaan. Die geld wat vir regskostes ingesamel is, kan nou ook nie vir ander goed gebruik word nie. “Ons het meer besighede en huishoudings nodig wat sal aansluit en ledegeld betaal, sodat ons met ons werk kan voortgaan.”
Indien jy betrokke wil raak, kan jy Mosikare by 071 111 5577 skakel.


