Helga Muller ‘skuldig aan wanvoorstelling’ – Mike Bolhuis

Deel hierdie storie / Share this story

Helga Muller, klein Marno Muller se ma, het die geld wat Suid-Afrikaners aan haar oorbetaal het na haar seun se fratsongeluk by die skool, gebruik vir ander uitgawes ook, behalwe mediese uitgawes. Só sê Mike Bolhuis, privaatondersoeker, wat deur Helga self aangestel is om die saak te ondersoek.

FiND iT het voorheen berig Helga het Bolhuis genader om ondersoek in te stel na sy glo daarvan beskuldig is dat sy haar seun se ongeluk gebruik het om ‘n groot hoeveelheid geld van Suid-Afrikaners te ontvang.

Bolhuis het aan FiND iT gesê hy sal namens haar optree. “Ons kry alle bankstate en alle bewyse en ons sal ‘n algehele finansiële forensiese ondersoek doen en ook ‘n algehele blootstelling aan die publiek doen. Dit is ‘n publieke aangeleentheid en die publiek sal wil weet wat met hulle geld gebeur het,” het Bolhuis belowe.

Nou het Bolhuis bekendgemaak dat hy deur sy ondersoek kon vasstel dat Helga glo wel die geld vir persoonlike goed, soos ‘n motorfiets van R25 000 en meubels van R38 000, gebruik het.

Die vyfjarige Marno het tydens ‘n fratsongeluk by die skool seergekry toe hy op ‘n glyplank aan sy baadjies se toutjies gewurg het. Hy was vir 25 dae in ‘n koma die intensiewesorgeenheid in die hospitaal en sy storie het duisende Suid-Afrikaners aangegegryp wat vir hom gebid het, sy storie gedeel het en ‘n bydrae wou lewer om die gesin te help om die mediese onkostes te dek.

Alhoewel Marno op 12 Junie uit sy koma wakkergeword en kort daarna huis toe is, moes Helga haarself steeds verdedig teen internetboelies en mense wat haar daarvan beskuldig het dat sy die geld vir persoonlike dinge gebruik het en nie waarvoor dit bedoel was nie. Sy het Bolhuis ‘n maand gelede gevra om die saak te ondersoek en haar onskuld te bewys.

Bolhuis sê nou dit is vir hom duidelik, na sy ondersoek, dat die geld nie gebruik is net waarvoor dit bedoel was nie. Hy het gesê Helga is skuldig aan wanvoorstelling.

Bolhuis sê hy en sy span het Helga op 14 Julie ontmoet. “Die span het ‘n volledige verslag van Marno se mediese toestand voor en na die ongeluk en bankstate van die drie verskillende bankrekeninge wat sy gebruik, van haar versoek,” sê Bolhuis. Al wat Helga glo kon wys, is een bankstaat vir Junie 2022 en ‘n paar strokies.

“Van 19 Junie 2022 tot 14 Julie 2022 is ‘n bedrag van R42 000 spandeer sonder enige indikasie van waarop die geld spandeer is,” sê Bolhuis. “Ons het feitelike bewyse dat sommige van die donasies nie gebruik is vir die dinge waarvoor dit bedoel is nie, soos R38 000 wat op meubels spandeer is en R25 000 vir ‘n motorfiets en van sy parte.”

Volgens Bolhuis het Helga sommige van die beweringe as die waarheid erken, maar gesê dat dit steeds ter wille van haar kind en wat die beste vir hom is, gedoen is.

Bolhuis sê verder dat daar geen briewe is as bewyse dat Marno enige verdere terapiesessies of behandeling nodig het nie en dat hy baie gesond is en dit met hom goed gaan.

“Die span het gevind dat die geld onvanpas bestee is en dat daar dus diefstal, bedrog en wanvoorstelling plaasgevind het. Dit is deur die ondersoek en deur Muller, wat nie haar volle samewerking gegee het nie, bewys,” sê Bolhuis in ‘n verklaring.

FiND iT het Helga gekontak, wie gesê het FiND iT moet oor ‘n uur terugbel. FiND IT sal ‘n opvolgberig doen.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel