Volgens EWN word die supergewilde sangeres Shakira, wat spog met 60 miljoen albumverkope wêreldwyd, deur moontlike gevangenisstraf van agt jaar, en ‘n boete van ongeveer 24 miljoen euro’s in die gesig gestaar nadat sy Woensdag ‘n pleitooreenkoms vir beweerde belastingontduiking verwerp het. Sy het deur haar prokureurs ‘n verklaring uitgereik waarin sy sê dat sy onskuldig is en dat sy in die hof sal verskyn waar haar onskuld glo bewys sal word. ‘n Hof in Barcelona het reeds in Mei ‘n aansoek om klagtes teen haar te laat vaar van die hand gewys.
Haar regspan bly positief dat ‘n ooreenkoms steeds bereik kan word voordat enige saak in die hof begin loop.
Die beweringe is dat sy die Spaanse belastingowerhede uit 14,5 miljoen euro’s verkul het met inkomste wat sy tussen 2012 en 2014 verdien het.
Shakira se oorspronklike amptelike belastingverpligtinge was volgens die berig in die Bahamas waar sy eers gewoon het. Sy het in 2011 na Spanje verhuis te midde van haar verhouding met die FC Barcelona-verdediger Gerard Pique. Die paartjie het twee kinders saam en het in Junie 2022 hul skeiding aangekondig.
Die ster het uitgevaar teen die skending van haar regte en die metodes van mishandeling wat deur die Spaanse aanklaerskantoor teen haar uitgevoer word. Sy verduidelik voorts hulle eis geld van haar wat sy verdien het gedurende internasionale toere en die tydperk toe sy in 2013 en 2014 ‘n beoordelaar op die Amerikaanse program The Voice was, en toe nog nie in Spanje gewoon het nie. Volgens haar het sy ‘n totaal van 17,2 miljoen euro’s aan die Spaanse belastingkantoor oorbetaal en het sy geen agterstallige skuld aan die tesourie nie.
Volgens haar prokureurs het sy haar grootste inkomste tot en met 2014 met haar toere verdien, en het sy eers gedurende 2015 na Spanje verhuis waarna sy belastingverpligtinge soos wat vereis word nagekom het.
Sy is gedurende 2021 een van die name wat geïdentifiseer is met oorsese beleggings deur die uitgelekte Pandora Papers.




