Volgens alderman JP Smith, Kaapstad se burgemeesterskomitee lid vir veiligheid en sekuriteit, het verkeersbeamptes vroeg Maandagoggend vier verdagtes, onderskeidelik 26, 28, 31 en 39 jaar oud gearresteer nadat hulle op heter daad betrap is waar hulle besig was om diesel van ‘n stilstaande vragmotor te steel.
Die vragmotor was op die hoek van Voortrekker en Wesselsstrate in Parow geparkeer terwyl die niksvermoedende bestuurder geslaap het.
Beslag is gelê op die toerusting wat gebruik was om die diesel van die vragmotor te tap.
‘n Wit Toyota Quantum, waarvan die nommerplate deur die verdagtes verwyder en gebruik was tydens die misdaad, is ook gekonfiskeer.
Die verdagtes is by Parow SAPD aangehou vanwaar hulle vir diefstal in die plaaslike landdroshof sal verskyn.
“Terwyl hierdie opvul-en-vlug-taktiek nie nuut is nie, is dit beslis iets anders, en is dit ‘n gevaarlike geleentheid om van gebruik te maak. Sou die verdagtes wegkom met die misdaad, is dit steeds ‘n risiko om met so ‘n groot mate van brandstof in tydelike houers te reis. Dit is moeilik om te spekuleer oor die motief van die misdaad, maar die moontlike rede is dalk die prys van brandstof. Genadiglik was die bestuurder ongedeerd, en ons versoek die vragmotorindustrie en motoriste oor die algemeen om ten alle tye waaksaam te wees.”
Alderman Smith gee ‘n oorsig van sy departement se suksesse en aanmeldings oor die afgelope week;
110 Motoriste is gearresteer vir dronkbestuur, sowel as roekeloos en nalatige bestuur,
67 047 Verkeersoortredings is aangeteken,
159 openbare voertuie is gekonfiskeer, en
1 637 arrestasielasbriewe is uitgevoer.
Vrydag 29 Julie is ‘n motoris in Athlone gearresteer met 33 uitstaande lasbriewe met ‘n waarde van R97 700.
Gedurende die verdagte se hofverskyning is sy borg vasgestel op R25 800, wat hy nie kon betaal nie en sal hy in aanhouding in Pollsmoor-gevangenis bly.
‘n Totaal van 1 843 mediese versoeke is aangeteken;
Vanaf 29 tot 31 Julie, is ‘n totaal van 159 aanrandingsake aangeteken in vergelyking met 95 sake vir die vorige naweek.
Vir dieselfde tydperk oor die naweek is 95 motorvoertuigongelukke en voetgangerongelukke aangemeld teen 61 vir die vorige naweek.
“Die statistieke wys tans ‘n styging van 50% in vergelyking met die vorige naweek, en wanneer na die weeklikse getalle gekyk word, is dit duidelik dat die styging in insidente rondom die einde van die maand plaasvind. Dit is kommerwekkend, want nie net word lewens verloor of in gevaar gestel nie, maar is die koste van trauma vir slagoffers en hul geliefdes in die samelewing groot,” sê Smith.
‘n Verdere 99 arrestasies is gemaak en 3 374 kennisgewings vir verskeie oortredings van verordeninge is uitgereik.



