Oud-onderwyser skuldig aan moord op Faceboook-vriend

De Beer was met Barnard op Facebook bevriend.

Drie inwoners van die Vaaldriehoek, ‘n vrou en twee mans, is vroeër die maand in die hooggeregshof in Pretoria skuldig bevind aan die moord op die oud-Koevoetlid, Chris Barnard, in Desember 2019.

Regter Papi Mosopa het op 8 Julie vir Corné de Beer (36), ‘n voormalige onderwyseres by ‘n privaatskool in Sasolburg, en haar twee vriende, Wayne van der Walt (38) en Richardt ‘Jagter’ Botha (38), skuldig bevind op aanklag van moord, diefstal en bedrog, berig Krugersdorp News.

De Beer was met Barnard op Facebook bevriend.

Barnard, ‘n geskeide man, het as terreinbestuurder vir ‘n Amerikaanse sekuriteitsonderneming in Irak gewerk. Gedurende die bosoorlog was hy in Namibië en Angola aan Koevoet, die Polisie se spesiale taakmag, verbonde. Hy het in 2006 in Bagdad in die Midde-Ooste begin werk en konvooie tussen Koeweit en die weermagbasis in Irak begelei.

Hy het sedert November 2017 as sekuriteitsbestuurder in Irak gewerk.

Barnard sou in Desember 2019 in sy huis in Annlin, Pretoria, deurbring terwyl sy suster en haar man, wat sy huis by hom gehuur het, met verlof in Mosambiek was. Hy het baie daarna uitgesien om ‘n vriendin wat hy op Facebook ontmoet het, Corné de Beer, in die Vaaldriehoek te kom haal om ‘n paar dae saam met hom in Pretoria deur te bring.

Gedurende dié tyd het hy ‘n selfie van hom en De Beer aan sy familie gestuur. Sy boodskappe het daarna ‘n vreemde wending geneem toe ongewone WhatsApp-versoeke van sy selfoonnommer af ontvang is om groot bedrae geld tussen sy bankrekeninge te verskuif. Sy familie het agterdogtig geraak en ‘n vriend gevra om ondersoek by sy huis in Pretoria in te stel, waar gevind is dat die huis leeggesteel en geplunder was.

Daar was geen teken van Barnard of sy voertuig nie.

Sy familie het hom op 7 Desember 2019 as vermis by die Sinoville-polisiestasie aangemeld.

Duisende rand is glo na sy verdwyning uit sy bankrekening onttrek. ‘n Intensiewe soektog deur die polisie en die private ondersoekdiens van Mike Bolhuis en Nolisat Investigations is op tou gesit.

Die analisering van selfoondata het die ondersoekers na die Vaaldriehoek gelei, waar De Beer op 24 Desember 2019 in verband met die saak in hegtenis geneem is.

Die arrestasie van Botha en Van der Walt, het op 30 Desember daardie jaar gevolg. Verskeie van Barnard se persoonlilke besittings en sy Jeep is in Vanderbijlpark in hul besit gevind. Al drie die beskuldigdes is selferkende dwelmgebruikers.

Barnard se liggaam is eers in Februarie 2020 deur ‘n voetganger in die Pienaarsrivieromgewing, noord van Pretoria, ontdek.

Hy was met toue in ‘n duvet toegedraai en hoewel gevorderde ontbinding reeds ingetree het, is hy aan ‘n tandheelkundige plaatjie en ‘n tatoeëring van sy dogter se naam op sy rug, uitgeken. Buiten ander familielede is hy ook deur sy bejaarde ouers wat albei reeds in hul tagtigs is, oorleef.

Oud-polisiekolonel Vince Harris, wat deel van die private ondersoekspan was en saam met die polisie gewerk het, het aan Vaalweekblad gesê hy het groot lof vir luitenant kololnel Alet Pratt van die Sinoville-polisie vir haar en haar span se uitstekende ondersoekwerk.

“Die publiek kan verseker wees dat daar nog baie toegewyde polisiemanne en -vroue in die polisiediens is,” het hy gesê.

Die hofsaak is tot ‘n later datum uitgestel vir vonnisoplegging.

Skrywer:

Leave a Reply

Your email address will not be published.