Die polisie ondersoek twee afsonderlike skietvoorvalle, waarvan een noodlottig, Saterdagaand in Kaapstad se Suidelike voorstede.
In die eerste voorval in Claremont is ‘n gewapende reaksiebeampte van Fidelity ADT deur onbekende verdagtes aangeval. Hy het noodlottige skietwonde opgedoen.
In ‘n verklaring sê The Fidelity Services Group dit blyk dat die beampte vir sy vuurwapen geteiken is.
‘n Tweede soortgelyke voorval het in die nabygeleë Harfield Village plaasgevind waar ‘n ander gewapende reaksiebeampte geskiet en sy vuurwapen van hom afgeneem is.
Hy word tans vir sy beserings in die hospitaal behandel.
Wahl Bartmann, uitvoerende hoof van die Fidelity Services Group, het in ‘n verklaring gesê: “Ons is diep hartseer oor hierdie aanvalle. Ons stuur ons innige meegevoel aan die vriende en familie van ons kollega wat gesterf het en wens ons tweede offisier ‘n spoedige herstel toe. Ons sal die SAPD ons volle samewerking gee om seker te maak dat die aanvallers gevind en vervolg word tot die volle omvang van die wet.”
Intussen word gesê die Claremont-polisie ondrsoek sake van moord, poging tot moord en roof.
Ao. Joseph Swartbooi, polisiewoordvoerder, het aan die Daily Voice gesê dit lyk of die twee skietvoorvalle binne minute van mekaar plaasgevind het.
Hy het bygevoeg die verdagtes het van die toneel gevlug en is op vrye voet.
Bronne: MSN, Cape Talk, Smile904 FM
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.
Lees ook: Student deur helikopterlem onthoof terwyl hy glo selfie neem



