’n 11-jarige meisie is Maandagmiddag 25 Julie in ’n botsing tussen ’n bakkie en trein by ’n plaaskruising in Noordwes dood.
Volgens die nooddiens ER24 het die ongeluk voor 15:30 by ‘n kruising in Syferbult tussen Derby en Magaliesburg plaasgevind.
Toe ER24 op die toneel aankom, het die wrak van die bakkie teen die voorkant van die trein gelê en gemeenskapslede het reeds die slagoffers – twee meisies en ‘n man – uit die voertuig gehaal.
“Medici het die pasiënte geassesseer en gevind dat die 11-jarige meisie reeds aan haar talle beserings beswyk het. Niks kon vir haar gedoen word nie, en sy is dood verklaar,” het ’n woordvoerder gesê.
’n 17-jarige meisie en 40-jarige man is kritiek beseer.
Hulle is op die toneel behandel en van gevorderde lewensondersteuning voorsien voordat hulle na ‘n hospitaal vervoer is vir dringende behandeling. Niemand op die trein is beseer nie.
“Plaaslike owerhede was op die toneel vir verdere ondersoeke,” het ER24 gesê.
Die provinsiale polisie ondersoek glo ’n saak van strafbare manslag.
Bronne: MSN, The South African, Arrive Alive
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.
Lees ook: Vermeende dief vasgetrek en geslaan deur omtrent 30 gemeenskapslede



