‘n Stiefpa (23) van ‘n driejarige seuntjie is in hegtenis geneem na die polisie op ‘n skokkende toneel in sy huis op Petrusville in die Noord-Kaap afgekom het.
Die voorval het volgens kapt. Olebogeng Tawana, polisiewoordvoerder, omstreeks 11:45 Maandagoggend plaasgevind.
Tawana sê die seuntjie se ma en die stiefpa was glo in ‘n stryery betrokke. Toe sy na die verdagte se huis terugkeer om haar klere en besittings te gaan haal, wou hy haar nie in die huis toelaat nie. Sy is sonder haar seuntjie daar weg en het later met die polisie teruggekeer na die huis.
Die polisie het op die driejarige seuntjie se liggaam op ‘n bed in die huis afgekom. Daar was verskeie steekwonde aan sy liggaam en die stiefpa het glo onder die bed weggekruip.
Die verdagte verskyn na verwagting vandag in die hof op Petrusville.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



