21-jarige student van Bloemfontein glo verkrag

Die vermeende oortreder is intussen in hegtenis geneem en die student ontvang die nodige sielkundige ondersteuning deur die SUT-welstandsentrum.

‘n 21-jarige vroulike student van die Sentrale-Universiteit vir Tegnologie (SUT) in Bloemfontein is glo Saterdagoggend deur ’n man verkrag.

Luidens ’n verklaring deur die universiteit is die bestuur Saterdagoggend van ’n beweerde voorval van verkragting van ’n student in kennis gestel.  

Die vermeende oortreder is intussen in hegtenis geneem en die student ontvang die nodige sielkundige ondersteuning deur die SUT-welstandsentrum.

Die verdagte sal Dinsdag 26 Julie in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn.

Die Universiteit sê hulle beskou hierdie ongelukkige en betreurenswaardige voorval as ’n ernstige “maatskaplike siekte” in hierdie land. ’n Beroep word op almal gedoen om te besin oor wat as ’n kollektief gedoen kan word om hierdie uitdagings wat deur die samelewing in die gesig gestaar word, aan te spreek.

“SUT-bestuur werk nou saam met verskeie belanghebbendes om spesifieke aksies te bepaal wat daarop gemik is om hierdie maatskaplike siekte aan te spreek.”

“Ons vroulike studente is daarop geregtig om vryhede te geniet wat in ons Grondwet verskans is. Hulle is geregtig op die beskerming van hierdie regte,” het die waarnemende vise-kanselier, prof. Alfred Ngowi, gesê.

“Hulle het ’n wettige aanspraak om vreedsaam op straat te wees vanaf hul koshuise tot by die kampus, en om die vrede en rustigheid van hul omgewing te geniet sonder die vrees, besorgdheid en onsekerheid wat voortdurend die kwaliteit van hul lewens verminder.”

Lt.-kol.Thabo Covane, polisiewoordvoerder, het in ‘n afsonderlike verklaring gesê die Vrystaat bevestig dat ’n 29-jarige man deur die Mangaung-polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe in hegtenis geneem is.

Volgens ’n verslag het die 21-jarige vroulike slagoffer en haar vriende ’n taverne in Bloemside besoek. Toe die taverne gesluit het, het hulle na ’n vriend se huis gegaan waar hulle verder in die vroeë oggendure van Saterdag gekuier het.

Die klaagster beweer sy het aan die slaap geraak en om 05:35 wakker geword met ’n mansvriend bo-op haar. Hy het na bewering ’n kondoom aangehad. Haar vriende het beweer hulle het gesien hoe hy haar verkrag. 

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel

Skrywer:

Leave a Reply

Your email address will not be published.