Die vrou wat twee jaar dood in haar woonstel gelê het

Bure het glo vir meer as twee jaar oor ‘n snaakse reuk gekla maar niemand het ondersoek ingestel nie.

Sheila Seleoane (61) se oorskot is in Februarie vanjaar op die vloer van haar huis in Londen gevind, twee jaar na haar dood.

Luidens ‘n berig deur Daily Mail UK het bure oor ’n snaakse reuk gekla nadat ‘n storm die balkondeur van haar woonstel oopgewaai het. ‘n Buurman het glo die polisie gebel.

Seleoane is glo reeds in 2020 deur haar bure as vermis aangemeld. Nadat haar gastoevoer afgesny is, het steeds niemand onraad vermoed nie.

Peabody, die behuisingsvereniging van die gebou waar Sheila gebly het, het haar gastoevoer afgesny toe hulle gevra het om ’n gaskontrole te doen, maar geen reaksie ontvang het nie.

Volgens Wells Chomutare, direkteur by Peabody, het hulle nooit die kolletjies verbind om die prentjie te sien nie. “Daar kan regtig nie van ons verwag word om gedwonge toegang tot iemand se eiendom te maak tensy dit nie ’n noodsaaklike situasie is nie.”

Volgens Southwark Coroners Court het die voormalige mediese sekretaresse in Augustus 2019 laas huur betaal.

Sy het toe agter geraak met haar betalings en ’n aansoek is later ingedien dat die huur uit haar voordele moet kom.

Hierdie aansoek is in Maart 2020 goedgekeur, met Sheila se behuisingsvereniging wat daarna maandelikse huurbetalings ontvang het, al was niemand met haar in aanraking nie.

Sheila moes deur tandheelkundige rekords uitgeken word, hoewel beamptes nie haar dood verdag gevind het nie.

Haar oorskot is na haar familie in Suid-Afrika gestuur.

Speurders meen sy is in Augustus 2019 oorlede, nadat hulle na die beste-voor-datums op die kos in haar yskas gekyk het en ontdek het dat sy nie daardie maand se huur aan die behuisingsvereniging betaal het nie.

Die lykskouer, dr. Julian Morris, het gesê: “Enige dood is hartseer, maar om vir meer as twee jaar ongesiens dood te lê, is moeilik om in 2022 te begryp.”

Die geregtelike doodsondersoek het aan die lig gebring dat drie bure haar as vermis aangemeld het. Die polisie het egter nie veel ondersoek ingestel nie.

’n Nadoodse ondersoek kon nie ’n oorsaak van dood vind nie, aangesien Sheila se liggaam in ‘n gevorderde stadium van ontbinding was.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel

Skrywer:

Leave a Reply

Your email address will not be published.