‘n Verdagte (25) is Vrydag in hegtenis geneem in verband met die moord op ‘n onderwyseres wie se liggaam in ‘n vlak graf naby ‘n treinspoor op Modimolle gevind is.
Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, sê die onderwyseres se liggaam is op 9 Maart vanjaar in die vlak graf gevind na sy op 6 Maart vermis geraak het.
Die polisie het dadelik ‘n soektog van stapel gestuur om haar op te spoor. Dié ondersoek het egter gelei tot haar ontbindende liggaam wat langs die vlak graf gevind is.
‘n Moordsaak is geopen en die polisie het ‘n lasbrief gekry om die persoon wat laaste saam met haar gesien is, se huis te deursoek.
Die polisie het DNA, wat DNA van die moordtoneel aan dié van die verdagte verbind, versamel.
Die 25-jarige verdagte het Maandag in die hof op Modimolle verskyn.



