97 vermeende onwettige myners vas

Deel hierdie storie / Share this story

Die polisie op Heidelberg in Gauteng het Maandag altesaam 97 mans in hegtenis geneem omdat hulle vermoedelik by onwettige mynbedrywighede betrokke was.

Kol. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, sê die polisiespanne het op ‘n plaas in die omgewing toegesak omdat daar glo onwettige mynbedrywighede aan die gang was.

Die 97 verdagtes van tussen 18 en 35 jaar oud is daar op die plaas in hegtenis geneem.

Volgens kol. Mathe het die polisie ook myntoerusting, onwettige vuurwapens en ammunisie gekonfiskeer.

Die plaaseienaar is ook in hegtenis geneem omdat hy ook glo in die besit van myntoerusting en ammunisie gevind is.

Die verdagtes sal na verwagting binnekort in die landdroshof op Heidelberg verskyn.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.