Twee vas na sewe koelbloedig op plaas vermoor word

Deel hierdie storie / Share this story

Na die koelbloedige moord op sewe mense op ‘n plaas naby Kestell, het die polisie nou twee verdagtes van 22 en 34 jaar oud in hegtenis geneem.

Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, sê die twee verdagtes is op ‘n pad buite die Bohlokong- informele nedersetting in hegtenis geneem.

Die verdagtes was volgens brig. Makhele in besit van twee vuurwapens wat vermoedelik ook op die plaas gesteel is. Daar word vermoed dat een van die vuurwapens die moordwapen kan wees.

“Vir nou kan ons slegs bevestig dat ‘n 17-jarige seun en ses vroue tussen die ouderdom van 22 en 53 jaar oud vermoor is,” sê brig. Makhele. Hy sê die polisie sal na verwagting vandag die slagoffers se volle name kan bekendmaak sodra hulle liggame geïdentifiseer is.

Die twee verdagtes sal Maandag 18 Julie in die Kestell-landdroshof verskyn op aanklagte van moord, gewapende roof en die onwettige besit van vuurwapens.

Lt.genl. Baile Motswenyane, die provinsiale polisiekommissaris, het die span geloof vir hulle harde werk om die verdagtes binne 24 uur vas te trek.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.