Seun (3) van Jan Kempdorp se liggaam gevind

Deel hierdie storie / Share this story

Meer as twee weke na die driejarige Botlhale Lyolo Gedene op 28 Junie vermis geraak het, het lede van die gemeenskap in Valspan Woensdag op die liggaam van ‘n driejarige seuntjie afgekom.

Die polisie het vroeër ‘n beroep gedoen op die gemeenskap om te help om die driejarige Botlhale Lyolo Gedene op te spoor. Lt.kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, het gesê die seuntjie is laas gesien toe hy saam met sy niggie voor hulle huis in Valspan, Jan Kempdorp, gespeel het.

Volgens kapt. Lebogang Tawana, polisiewoordvoerder, is ‘n driejarige seuntjie se liggaam Woensdag in ‘n poel dreinwater gevind.

Tawana sê egter dat die seuntjie se liggaam nog nie positief geïdentifiseer is as dié van die driejarige Gedene nie. Hy sê ‘n amptelike nadoodse ondersoek sal gedoen word om vas te stel wat die rede vir die seun se dood was.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie.