Die Oos-Kaapse hooggeregshof in Grahamstad het ‘n man tot lewenslank tronkstraf gevonnis vir die verkragting op ‘n negejarige meisie.
Siyanda Madlebe (47) het volgens ‘n verklaring deur die streekswoordvoerder, Luxolo Tyali, die meisie herhaaldelik by verskeie geleenthede verkrag.
Die slagoffer het ten tye van die gebeure in 2018 en 2019 by haar ouma in Keiskammahoek gebly waar sy in die kombuis geslaap het.
Madlebe het glo deur die nag opgestaan, kombuis toe gegaan, haar klere uitgetrek en haar verkrag. Volgens Tyali het hy glo die slagoffer se mond met sy hand toegedruk en haar gedreig hy sal haar doodmaak indien sy skree of vir iemand vertel.
Die seksuele aanrandings het by talle geleenthede voortgeduur totdat die jong meisie haar ouma ingelig het.
Sy het haar kleindogter egter nie geglo nie, maar haar vermaan. Die ouma het selfs gedreig om die slagoffer met ’n mes dood te maak as sy sou aanhou om “leuens oor haar kêrel te versprei”. Selfs nadat die meisie haar vriendin vertel het, het die ouma geweier om haar te glo.
Madlebe is eers in hegtenis geneem nadat die slagoffer haar ma vertel het nadat sy in 2021 uit haar ouma se huis getrek het. Tydens die verhoor het Madlebe onskuldig gepleit en alles ontken. Adv. Nocwaka Blorweni-Tokota het die getuienis van die slagoffer, haar ma, haar vriend en ondersoekbeampte, sersant Candy Gala, gelei om die hof van Madlebe se skuld te oortuig.
Met die verwelkoming van die vonnis het die Oos-Kaapse direkteur van openbare vervolging, Barry Madolo, die aanklaer en die ondersoekbeampte geloof vir hul noukeurige insamel en aanbieding van bewyse.



