Man word beskuldig van verkragting van meisie (10), aborsie geweier

Deel hierdie storie / Share this story

’n Man in die Amerikaanse deelstaat Ohio is aangekla van die verkragting van ’n 10-jarige meisie wat daarna vir ’n aborsie na ‘n ander staat moes reis nadat haar tuisstaat die prosedure beperk het.

Gershon Fuentes (27) het Woensdag in die hof in Columbus verskyn. Die naamlose meisie se lot het internasionale aandag getrek.

Die Amerikaanse president Joe Biden het dit in die Withuis aangehaal terwyl hy aborsiebeperkings gekritiseer het, maar skeptici het bevraagteken of dit werklik is.

In ‘n toespraak verlede Vrydag waarin hy daardie uitspraak veroordeel het, het president Biden ‘n verslag oor die kind se saak geopper en woedend gesê: “Stel jou voor dat jy daardie dogtertjie is!”

Ure ná die hooggeregshofbeslissing het wetgewers in Ohio aborsies ná ses weke verbied, met geen uitsonderings vir slagoffers van verkragting of bloedskande nie.

Die kind was ses weke en drie dae swanger, volgens die Indianapolis Star-koerant.

Die meisie, wat deur ‘n dokter vir kindermishandeling in Ohio verwys is, het op 30 Junie ‘n kliniek in Indianapolis, Indiana, besoek om ‘n mediese aborsie te ondergaan.

Alhoewel pogings aan die gang is om toegang tot aborsie in Ohio se buurstaat te beperk, bly die prosedure steeds wettig daar.

Volgens aanklaers was die kind moontlik nege jaar oud toe sy aangeval is. Sy het aan die polisie gesê sy is swanger weens die verkragting deur Fuentes, berig die IndyStar.

Die polisie sê die beskuldigde, wat Dinsdag by ‘n woonstel in Columbus in hegtenis geneem is, het volgens die Columbus Dispatch erken dat hy die meisie verkrag het.

‘n Speekselmonster van hom word volgens die plaaslike media teen DNS van die aborsiekliniek in Indianapolis gekontroleer.

Fuentes is ‘n Guatemalaanse burger en is onwettig in die VSA, het ‘n bron aan Fox News gesê.

Met verwysing na die risiko dat Fuentes kan vlug of die kind verder in gevaar stel, het regter Cynthia Ebner van die Franklin County munisipale hof hom in aanhouding gebring en borgtog is op $2 miljoen (£1,7 miljoen) vasgestel.

Hy kan tot lewenslange tronkstraf gevonnis word indien hy skuldig bevind word.

Bronne: BBC, Forbes, The Guardian

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.

Lees ook: Paul Walker se dogter, Meadow, onthul dat sy ‘n aborsie gehad het