Die polisie het pas aan FiND iT bevestig die eienaar van die Enyobeni-taverne in die Oos-Kaap en twee van sy werknemers is die naweek in hegtenis geneem.
Dit volg na 21 minderjariges wat die naweek van 26 Junie onder raaiselagtige omstandighede by die taverne dood is.
Brig. Tembinkosi Kinana, polisiewoordvoerder, sê die 52-jarige eienaar en twee van sy werknemers van onderskeidelik 33 en 34 jaar oud is in hegtenis geneem na die Oos-Kaapse drankraad klagtes gelê het oor die oortreding van die drankwet.
“Na die saak by die drankraad geopen is, het ondersoekers met die ondersoek voortgegaan,” sê brig. Kinana. Die twee werknemers het elk ‘n boete van R2 000 gekry en ‘n dagvaarding is aan die eienaar vir sy onmiddellike inhegtenisname oorhandig.
Brig. Kinana sê die ondersoek fokus meerendeels op die beweerde oortreding van die Oos-Kaapse drankwet wat die verkoop van drank aan kinders onder die ouderdom van 18 jaar verbied.
Die taverne-eienaar sal na verwagting op 19 Augustus in die Oos-Londen-landdroshof verskyn en sou die werknemers nie die boetes betaal nie, sal hulle ook dan in die hof verskyn.
Verder sê brig. Kinana die forensiese ondersoek om vas te stel wat die minderjaries se skielike dood veroorsaak het, gaan nog voort. Daar is geen nuwe inligting hieroor beskikbaar nie.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.



