‘n Groep jongmense, sommige so jonk as sewe, is in Parkwood op video opgeneem waar hulle vier maande oue pitbull-hondjies aanspoor om teen mekaar te veg.
Een hondjie het probeer wegkom, maar is aan ‘n leiband vasgehou en gedwing om homself teen aanvalle te verdedig.
Die video is aan die Dierebeskermingsvereniging (DBV) oorhandig.
Hul inspekteurs, saam met Kaapse wetstoepassers, het die volgende dag op twee van die klein hondjies beslag gelê, asook vier ander honde met nuwe en ou letsels wat met hondegevegte geassosieer word.
Hulle is na ‘n plek van veiligheid geneem. Kriminele aanklagte van onwettige dieregevegte en dieremishandeling is gelê.
“Ek is altyd geskok oor mense se begrip van wat dit beteken om vriendelik teenoor diere te wees wanneer hulle hulle in haglike lewensomstandighede hou en vir vegdoeleindes gebruik,” het inspekteur Mark Syce van die Kaap die Goeie Hoop DBV gesê.
“Nie een van hierdie honde het die lyding verdien wat hulle moes verduur weens bloedhonger individue nie.”
Hondegevegte is onwettig in Suid-Afrika en hou ‘n boete van R80 000 en/of tronkstraf van tot 24 maande in.
Ingevolge die Dierebeskermingswet is dit ‘n misdaad om op enige manier betrokke te wees by die bakleiery van diere of om diere wat vir gevegte gebruik word te besit, aan te hou, op te lei of te teel of om hulle aan te hits om mekaar aan te val.
Dit is ook onwettig om hierdie diere te koop, verkoop of in te voer om te veg, hulle op jou eiendom te hou of selfs om na ‘n georganiseerde hondegeveg te kyk.
Die burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit vir die Stad Kaapstad, JP Smith, het gesê hondegevegte is meer as net ‘n bloeddorstige sport.
Hy het gesê dit is ‘n wrede vorm van onmenslike vermaak wat deur kriminele bendes gebruik word om jeugdiges gewoond te maak aan en hulle te werf vir ‘n gewelddadige samelewing waar die dood aanvaarbaar word.
“Daar is niks normaal aan sulke lafhartige menslike gedrag nie,” het hy gesê. “Terwyl gemeenskappe gebuk gaan onder bendeterreur, doen die stad ’n beroep op dieselfde gemeenskappe om kennis te neem van diegene wat by die onwettige ‘sport’ van hondegevegte betrokke is en om dit aan te meld.”
Verlede jaar het die DBV en Kaapstadse wetstoepassers kragte saamgesnoer om hondegevegte uit te roei.
Bronne: MSN, Daily Maverick. IOL
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.
Lees ook: Hermanus-familie geskiet, ma sterf



