DA stel Sol Plaatje se kandidaat vir Wyk 21 bekend

Deel hierdie storie / Share this story

Inwoners van Wyk 21, Sol Plaatje, kan uitsien na ‘n 72-uur omkeertyd vir terugvoer oor gerapporteerde diensleweringskwessies.

Dit is die belofte wat die Demokratiese Alliansie (DA) se kandidaat, Simoné Greeff, gegee het. Simoné sal die komende tussenverkiesing op 31 Augustus meeding.

Die 29-jarige Greeff, wat aan die Hoërskool Adamantia gematrikuleer het en in De Beers in Kimberley woon, is sedert 2016 ‘n DA-lid en is daaraan gewoond om gemeenskapslede by te staan.

Simoné is vol energie en gereed om haar loopbaan van gemeenskapsdiens na die volgende vlak te neem. Sy is veral passievol daaroor om die gemeenskap by te staan om Wyk 21 tot sy eertydse glorie te herstel.

In hierdie verband is Simoné vasberade om die basiese beginsels reg te kry deur alle diensleweringskwessies waarvan sy bewus word, by die munisipaliteit aan te meld, op te volg met die verantwoordelike persone en binne 72 uur aan die onderskeie gemeenskappe terug te rapporteer. Sy sal ook voortgaan om alle kwessies op te volg en, indien die munisipaliteit nie betyds bygestaan word nie, sal sy plaaslike besighede en gemeenskapslede met die geskikte vermoëns nader om hulp van buite te probeer kry om ‘n skoner, veiliger en waardige wyk te skep.

Aangesien dwelmmisbruik onder die jeug ook algemeen in hierdie wyk voorkom en misdaad verder aanwakker, sal sy ook spesiale fokus daarop plaas om met organisasies saam te werk om die jeug te motiveer om ‘n gesonder leefstyl te lei.

Die DA is vol vertroue dat Simoné geskik is om ‘n lig van hoop te wees in ‘n wyk wat grootliks deur die Sol Plaatje-munisipaliteit afgeskeep is.

Gegewe die jammerlike toestand van Wyk 21 en die hele Sol Plaatje, is daar nie plek vir nuttelose openbare verteenwoordigers nie. Ons bou ‘n Party wat trots is daarop om sy moue op te rol en gereed is om Wyk 21 vorentoe te neem.

Ons neem Simoné se beloftes daarom ernstig op en ons sal haar aanspreeklik hou vir die bediening van alle gemeenskapslede in haar wyk te neem. Indien sy nie haar verpligtinge nakom, sal ons ook nie skroom om enige mislukkings aan te spreek nie – dit is ons belofte as die Party aan die gemeenskap.

Die DA moedig alle inwoners wat in wyk 21 woonagtig is, wat die gebiede van Belgravia, dele van Herlear, Cassandra, Ernestville en De Beers insluit, om asseblief deel te neem aan registrasienaweek wat op 16 en 17 Julie plaasvind, deur seker te maak hulle is geregistreer om op die 31 Augustus te stem.

*PERSVERKLARING

Less ook: DA staan ​​by aktivis Ian Cameron na Cele hom stilmaak