Onderwyseres, man en seun sterf in ongeluk

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Onderwyseres van die Hoërskool Rustenburg is die afgelope naweek saam met haar man, Jaco, en seun, Tinus (23), in ‘n motorongeluk dood.

Die ongeluk het omstreeks 21:00 op die N4 by die Waterfall-winkelsentrum in Rustenburg gebeur.

Die gesin was glo slegs sowat vyf kilometer van hul huis, na ‘n vakansie op Yzerfontein, toe hulle in ‘n ongeluk met drie ander motors betrokke was.

Die egpaar se ander seun, Bernard (21) en sy vriendin, Kaylee (20) was ook in die motor, maar het die ongeluk oorleef.

Hulle is albei studente aan die Noordwes-universiteit in Potchefstroom en is al ‘n jaar lank ‘n paartjie.

Volgens ‘n inskrywing op die skool se Facebook-blad, word Bernard en Kaylee tans in die hospitaal behandel.

“Dit is met groot hartseer dat ons die nuus met julle moet deel. Juffrou Annelize Meyer, haar man Jaco en hulle seun Tinus is eergisteraand in ‘n noodlottige motorongeluk oorlede. Hulle seun Bernard en sy vriendin Kaylee het die ongeluk oorleef en word tans gehospitaliseer.

Annelize was ‘n uiters bekwame onderwyser wat diep geliefd onder ons Rustie-leerders en personeel was! Dit is met trane in ons oë wat ons haar vandag groet. Bernard en die familie is in die Rusties se gebede,” het die skool Maandagoggend op hul Facebook-blad geskryf.