Nadat petrolpryse Woensdag in Gauteng tot bo R26 per liter en dieselpryse in die provinsie tot bo R25 per liter gestyg het, kan Suid-Afrikaners hulself staal vir ’n verdere verhoging in brandstofpryse in Augustus.
Tot en met Januarie vanjaar het Suid-Afrikaners net meer as R19 per liter brandstof betaal, maar weens die oorlog in Oekraïne, wisselkoerse en stygende oliepryse het dit maandeliks tot rekordhoogtes gestyg.
In Mei 2012 het Suid-Afrikaners maar R12 per liter petrol betaal.
In Maart 2018, ses jaar later, het motoriste R13 per liter betaal, aangesien brandstofpryse maandeliks met bykans 20c per liter gedaal of gestyg het.
Augustus gaan egter weer slegte nuus vir motoriste bring – dalk selfs ʼn nuwe rekordhoogtepunt in die brandstofprys met ʼn defnitiewe styging van 75c per liter, aangesien die regering se brandstofheffing weer ten volle ingestel word.
Die regering het tot op hede nie gereageer op meer as 138 000 handtekeninge wat deur die DA ingedien is om belasting en regulasies op brandstof te sny nie – iets wat die brandstofprys tot op sy vlak in Januarie vanjaar kan bring.
Alhoewel die finale stygings eers later vandeesmaand aangekondig word, kan daar reeds met redelike sekerheid ’n aanduiding gegee word van wat om te verwag.
Die jongste data van die Sentrale Energiefonds (CEF) dui aan dat die volgende styging in brandstofpryse (gegrond op onderverhalings) op Woensdag 3 Augustus 2022 verwag kan word:
95-oktaan-petrol: Styg met R0,89 per liter;
93-oktaan-petrol: Styg met R0,91 per liter;
0,05%-swael-diesel: Styg met R1,05 per liter;
0,005%-swael-diesel: Styg met R1,07 per liter;
Paraffien: Styg met R0,42 per liter.
Die bogenoemde data is op 7 Julie 2022 geneem en sal na verwagting verder in die maand styg.



