Die polisie sê Wiseman Mthunzi Zwane, wat ‘n gerespekteerde mediese student was, is wreedaardig gesteek en in ‘n rivier gegooi.
Volgens polisiewoordvoerder, kol. Donald Mdhluli, het lede van die gemeenskap Zwane se liggaam in ‘n rivier by Nhlazatshe met steekwonde gevind het en toe die polisie in kennis gestel.
Sy liggaam is op Woensdag 6 Julie 2022 gevind. Mdhluli het gesê die 26-jarige Wiseman Mthunzi Zwane was op die punt om sy kliniese opleiding aan die Vrystaatse universiteit te voltooi.
“Op Vrydag 8 Julie 2022 is die polisie by Elukwatini na die verdagtes gelei nadat hulle hul ondersoek gedoen het. Die polisie het ‘n paar leidrade opgevolg en eers ‘n 18-jarige verdagte by Nhlazatshe in hegtenis geneem, terwyl die tweede verdagte (‘n 17-jarige minderjarige) tans onder polisiebewaking in die hospitaal is nadat hy deur lede van die gemeenskap aangerand is voor sy arrestasie,” het kol. Donald Mdhluli gesê.
Hy het verder gesê een van die mans wat in verband met die wrede moord op Zwane in hegtenis geneem is, het Maandag in die Hoofman Albert Luthuli-landdroshof verskyn.
Die ander verdagte, die tiener, sal binnekort in die hof verskyn.
“Die polisie kan nie die moontlikheid uitsluit dat nog inhegtenisnemings in hierdie saak gemaak gaan word soos wat die ondersoek vorder nie. Tydens die hofverskyning is die saak tot 19 Julie 2022 uitgestel vir ’n formele borgtogaansoek,” het kol. Donald Mdhluli gesê.
Bronne: MSN, The South African, Economy24
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.



