Drie mense doodgeskiet ure voor Soweto-moorde

Deel hierdie storie / Share this story

Minstens drie mense, insluitend ‘n 18-jarige leerling, is dood toe onbekende mans Saterdagaand lukraak op hulle geskiet het terwyl hulle naby ‘n taverne in Mathole- informele nedersetting, naby Roodepoort, gedrink het.

Die voorval het ná 19:00 plaasgevind sowat 50 m weg van ‘n gewilde taverne bekend as KwaMashaba.

Die skietery het gebeur net ure voordat 15 mense by Emazulwini-taverne in Orlando, Soweto dood is in ‘n skietvoorval wat die land geskok het.

“Dit het alles so skielik gebeur. Ons het as ’n groep om die vuur gesit en alkohol gedrink toe daar skielik harde knalle was en ons het geweet dis geweerskote,” het ’n getuie gesê.

“Ons het almal in verskillende rigtings versprei. Ons kon nie sien waar die geweerskote vandaan kom nie, maar ons kon hoor dat hulle te naby was en toe het ek die twee kinders wat naby my was, gevat en in my hut ingehardloop.”

Die ma van twee het gesê sy het sowat vyf minute lank in die hut weggekruip en gewag dat die skietery ophou.

“Toe die rumoer bedaar het en ek bekende stemme buite gehoor het, het ek geweet die skieters is weg. So ek het uit die huis gekom en net buite my drumpel het Katlego daar gelê met bloed oor sy lyf,” het sy gesê sonder om die slagoffer se van te verklap.

“Hy moes probeer hardloop het, maar hy is geskiet.”

‘n Ander vrou het gesê hulle het geen voertuig gesien nie, wat hulle laat glo het dat die aanvallers te voet was.

“Ons het nadat die geraas bedaar het besef drie ander mense wat ook om ‘n vuur in ‘n erf oorkant ons s’n gesit het, is ook geskiet. Twee van hulle is op slag dood en een is na die hospitaal vervoer. “Ons is steeds so getraumatiseerd. Ons weet nie wie so iets sou doen nie. Ons het selfs met kinders gesit, dit was regtig genadeloos.”

Onder diegene wat in die tweede erf vermoor is, was Justin Nethomboni, ‘n tiener wat vir sy vriend gaan kuier het.

Sy broer Ndivhuwo het gesê die familie het die nuus van die vriend ontvang, wat gesê het Justin is geskiet en het nie gereageer nie.

“Ek het gehaas om te sien wat gebeur het en ek het hom in ‘n plas bloed gevind met sy brein oraloor,” het Ndivhuwo gesê.

Die seun se oom het gesê hy kan aan niemand dink wat die seun sou wou seermaak nie, aangesien hy ‘n aangename persoon was.

“Ons is as gesin diep seergemaak. Hierdie seun het planne gehad om te studeer en hy was ons hoop. Ons wil ’n paar antwoorde hê.”

Die polisie het gesê hulle ondersoek drie sake van moord en vier van poging tot moord.

“Die motief vir die skietery is in hierdie stadium onbekend en niemand is in hegtenis geneem nie,” het kol. Dimakatso Sello, provinsiale polisiewoordvoerder, gesê.

Bronne: MSN, Sowetan LIVE, 15 Minute News

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.

Lees ook: R Kelly glo verloof aan ‘slagoffer’ Jocelyn Savage