HR-beampte wat afgedank is oor hoëhakskoene op myn, kry haar werk terug

Deel hierdie storie / Share this story

’n Mynmaatskappy moet sy voormalige menslikehulpbronkoördineerder in diens herstel nadat hy haar afgedank het omdat sy uitdagende hoëhakskoene by sy kantore gedra het, ten spyte van die firma se reël dat slegs plat skoene op die myn gedra moet word.

Tharisa Minerals is deur arbeidshofregter Graham Moshoana beveel om Litshani Mofokeng haar werk terug te gee, nadat sy in 2017 afgedank is omdat sy beswaar gemaak het teen die maatskappy se besluit om hoëhakskoene op sy myn in Rustenburg, Noordwes, te verbied.

Mofokeng is in September 2017 vir die eerste keer gesien waar sy hoëhakskoene dra deur een van Tharisa Minerals se direkteure, wat toe ’n bestuurder ingelig het oor die gevare van sulke skoene op die myn.

By die tweede geleentheid, 10 dae later, het Tharisa Minerals se hoof van volhoubare ontwikkeling, Derek Baker, Mofokeng na sy kantoor ontbied en haar opdrag gegee om aan die beleid te voldoen.

Mofokeng het in haar antwoord haar werkgewer probeer oortuig dat sy haar vroulike voorkoms op die myn wil behou, maar Baker het haar ingelig oor die risikobepaling wat die maatskappy gedoen het en sy ervarings by ‘n vorige myn waar hy gewerk het, gedeel.

Mofokeng het teësinnig aan die opdrag voldoen.

Mofokeng was ontevrede met die opdrag omdat sy voorheen sonder enige probleme hoëhakskoene gedra het en het haar ontevredenheid uitgespreek tenoor van haar vroulike kollegas, van wie sommige haar aangeraai het om te wag dat die opdrag op skrif is.

Hoewel van Mofokeng se vroulike kollegas haar gesteun het, het hulle later koue voete gekry. Sy het ook ‘n vakbondleier genader om haar saak te ondersteun, maar haar pogings is afgewys.

Dit was toe dat Baker kennis gekry het van Mofokeng se pogings om die opdrag te betwis en haar van growwe insubordinasie en aanhitsing aangekla het, en beweer het haar optrede kom daarop neer dat sy gesag uitgedaag word.

Mofokeng is tydens ‘n dissiplinêre verhoor skuldig bevind en in Oktober 2017 ontslaan, maar het die besluit by die KVBA (Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie) betwis, wat bevind het dat haar ontslag regverdig was.

Sy het toe die Arbeidshof genader om die KVBA-uitspraak om te keer, op grond daarvan dat sy besluit nie een was wat ‘n redelike besluitnemer sou neem nie.

Regter Graham Moshoana het bevind daar was blykbaar geen regverdiging vir die verbod op hoëhakskoene op die myn nie en het gesê Mofokeng se afdanking klink op die oog af ongeldig en onredelik.

In sy uitspraak het regter Moshoana verwys na Oekraïen se minister van verdediging, Andriy Taran, wat deur skerp kritiek in die gesig gestaar is nadat hy aangekondig het dat vroulike soldate verlede jaar tydens parades verplig sou word om hoëhakskoene te dra.

Die regter het die KVBA se besluit dat Mofokeng se afdanking billik was, hersien en tersyde gestel.

Regter Moshoana het dit vervang met een wat sê dat hoewel dit prosedureel billik was, dit ook wesenlik onbillik was en het gelas dat Mofokeng heringestel word vanaf die dag waarop sy afgedank is.

Oor die kwessie van terugbetaling het die hof gesê sodra ‘n werknemer herstel word, kom die kontraktuele reg op terugbetaling die werknemer toe.

Bronne: Saturday Star, MSN, IOL

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.

Lees ook: Oom (22) in hegtenis geneem vir moord op tweejarige nefie Neo Thlame