’n 22-jarige man is Woensdag 6 Julie 2022 gearresteer vir die beweerde moord op sy tweejarige nefie Neo Refemetswe Tlhame wie se lewelose liggaam Dinsdag 5 Julie in ’n vlak graf by Uitbreiding 3, Blydeville buite Lichtenburg, gevind is.
Die verdagte is glo in hegtenis geneem nadat hy ondervra is en met die saak verbind kon word. Soos voorheen berig, is die polisie deur Neo se ma ontbied nadat hulle ‘n verdagte graf naby die rivier opgemerk het.
Die graf is uitgegrawe en die ontbinde liggaam van jong Neo is geïdentifiseer met die klere wat hy op die dag van sy verdwyning aangehad het.
Neo het op Dinsdag 24 Mei 2022 vermis geraak terwyl hy by sy grootouers was. Neo se verdwyning is egter deur sy ma vasgestel toe sy hom na werk gaan haal het.
Na die vrugtelose soektog deur die gemeenskapslede en Neo se familie, is ‘n ondersoek na ‘n vermiste persoon geopen. Die polisie het ook by die soektog aangesluit, maar Neo is nooit gevind nie.
Die verdagte sal na verwagting op Vrydag 8 Julie 2022 in die Lichtenburg-landdroshof weens moord verskyn.
Bronne: MSN, The South African, Sunday World
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.
Lees ook: Liggaam van vermiste Lichtenburg-kleuter in vlak graf gevind



