Ná die dramatiese gebeure waartydens die polisieminister Bheki Cele herhaaldelik op die aktivis Ian Cameron geskree het en laasgenoemde uit ’n vergadering gedwing is, het die Suid-Afrikaanse musiekkunstenaar The Kiffness, getrou aan sy aard, ‘n video na aanleiding van die gebeure gemaak.
Bheki Cele “Shut Up” Remix, noem The Kiffness die video.
Hy gaan dan voort deur te noem dat hy Cameron ondersteun in sy besluit om teen die minister op te staan. Hy sê Cameron is deel van ‘n organisasie wat help om regverdigheid te laat geskied en toe hy kommentaar gelewer het op Cele se “swak werk”, het Cele die rassekaart gespeel en sy humeur verloor.
Cameron, leier van Action Society, ‘n drukgroep in die Wes-Kaap, het dit Maandag in ‘n vergadering vir die minister van polisie, Bheki Cele, baie ongemaklik gemaak. Hy het noodsaaklike vrae gevra en oor menseregte gepraat tot Cele uiteindelik op hom geskree het, en vir hom gesê het om stil te bly.
Cameron is later deur die polisie by die vergadering en van die perseel af verwyder.
Die hele voorval is deur omstanders en die media verfilm.
Die DA het dit agterna op sy Facebook-blad gestel dat hulle agter Cameron staan.
“Die DA staan by Ian Cameron wat met geweld uit ‘n gemeenskapsvergadering verwyder is nadat hy gepleit het vir die veiligheid van inwoners van Gugulethu en Nyanga. Die polisie se gebrekkige hulpbronne deur die nasionale regering moet blootgelê word en polisiëringsmagte moet afgewentel word. Bheki Cele moet gaan!” het die DA gesê.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.



