Dit wil voorkom of die veroordeelde vroueslaner, Jaco Swart, wegkruip na ‘n beweerde aanranding.
Volgens Tame Times is albei sy fone afgeskakel, maar hy betaal steeds sy prokureur, Enoch Nethanani.
Nethanani het glo vir Swart probeer kontak, maar sy fone bly af.
“Ek het sedert 20 Junie nog niks van Jaco gehoor nie. Ek het hom probeer bel, en boodskappe gestuur, maar niks gaan deur nie.”
Nethanani het bevestig dat Swart verlede week Donderdag ‘n betaling uit sy persoonlike rekening aan hom gemaak het.
Nethanani het gesê Swart het glo oor selfdood gepraat en dat hy eerder sy eie lewe sal neem voordat hy deur ander doodgeslaan word.
Swart is glo vroeër vandeesmaand deur ‘n groep onbekende mans in Gauteng aangerand.
Volgens Nethanani het Swart gesê hy is geslaan en in die kattebak van ‘n motor gesit.
Jaco is glo geruk deur die aanranding, sê ‘n anonieme vriend van hom.
Geen saak van aanranding is geopen nie.
Swart is vroeër vandeesmaand tot ‘n boete van R20 000 en tronkstraf van drie jaar, opgeskort vir vyf jaar, gevonnis vir die aanranding van sy vervreemde vrou, Nicoleen Swart.
AfriForum het videomateriaal vrygestel van die wrede aanranding waar Swart in 2018 vir Nicoleen gestamp, geslaan en geskop het.
Swart het skuld beken op twee aanklagte van aanranding met die opset om sy vervreemde vrou ernstig te beseer.
As jy of iemand wat jy ken gedagtes aan selfdood het, kontak die selfdoodhulplyn by 0800 567 567.



