Probeer jy jouself al vir ‘n geruime tyd oortuig dat dit beter is om eerder te vape as om aan te hou sigarette rook? Wil jy dalk sommer heeltemal ophou rook?
Om op te hou, is seker een van die moeilikste dinge om reg te kry. Soms sê jy dis die spanning by die werk wat jou laat rook, soms is dit verveeldheid, en soms is dit sommer net uit gewoonte.
Maar moenie moed verloor nie! Dit is moontlik om op te hou.
Hier is tien wenke wat ons bymekaargestel het om die ophou vir jou makliker te maak.
Verander jou roetine
As jy byvoorbeeld gewoonlik in die motor gerook het, luister na musiek of na ‘n oudioboek om jou aandag af te trek. As jy gewoonlik die eerste ding in die oggend gerook het, probeer om jou oggendroetine te verander en die rook met stort of stap te vervang. As jy gewoonlik na ete gerook het, probeer om dadelik na ete die kombuis aan die kant te begin maak, skottelgoed te was, of sommer met iemand te gesels.
Oorweeg hulpmiddels
Daar is baie oor-die-toonbank-hulpmiddels in die winkels beskikbaar wat jy kan oorweeg. Medikasie of nikotienkougom of –patches kan jou fisies help met die onttrekkingsimptome.
Skep asem
Gebruik jou asemhaling om deur ‘n oomblik van rooklus te kom. Haal DIEP asem, maak jou longe vol lug, en asem stadig weer uit. Dit sal nie net voel asof jy rook nie, dis ontspannend ook!
Stel ‘n datum vas
Kies ‘n spesifieke datum vir wanneer jy wil ophou en hou daarby. Dit sal jou help om jou kop voor te berei vir wanneer die dag aanbreek.
Kry ondersteuning
Vertel jou vriende, gesin of lewensmaat van jou besluit om op te hou rook. As jy dan ‘n slegte dag het of ondersteuning nodig het, sal dit die proses vergemaklik.
Leef gesonder
Eet gesond, oefen en drink baie water. Gesonde kossoorte of peuselhappies sal werk vir wanneer jy jou mond wil besig hou. Oefening kan ook jou aandag aflei en wanneer jy baie water drink, spoel jy die nikotien vinniger uit jou liggaam uit.
– Mieliestronk, Rooi Rose, Solidariteit
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.



