Riaan Swiegelaar, medestigter van die Suid-Afrikaanse Sataniese Kerk (SASC) het Dinsdag bekendgemaak dat hy op 30 Mei vanjaar bedank het uit dié kerk.
Swiegelaar was ‘n “dominee” by dié kerk en het ook in die kerkraad gedien. Hy het sy lidmaatskap by die organisasie heeltemal beëindig.
In ‘n video op Facebook sê Swiegelaar die rede vir sy besluit was vier Christene in sy lewe wat hom gewys het wat onvoorwaardelike liefde is.
Hy noem dat hy aanvanklik gedink het dat hy stilweg by die agterdeur sou uitglip sonder dat enigiemand daarvan weet. “Ek het nie gedink soveel mense sou belangstel in hoekom ek doen wat ek doen nie.”
Hy verduidelik dat hy in satanisme begin belangstel het omdat hy “gebroke” was sonder om dit te besef.
In sy tyd as “dominee” by die sataniese kerk het hy ‘n groot groep sataniste ontmoet en sê een ding wat almal in gemeen het, is dat almal “gebroke en uiters seergemaak” is.
Swiegelaar praat dan in die video direk met Danie en Adel Frey, twee van die Christene wat hom deur sy storms ondersteun het, en sê: “Julle het vir my die liefde van Christus gewys, ek het dit in julle gesien”.
In ‘n vorige onderhoud met FiND iT het Swiegelaar openlik erken dat hy nie in Christus glo nie. Hy het ook genoem dat daar in die sataniese kerk nie dinge bestaan soos “katte slag” wat meestal die stereotipe is wat oor sataniste geglo word.
Hy het ook gesê sataniste aanbid nie die duiwel soos wat dit baie uitgebeeld word nie. “Satanisme verskil in die opsig dat ons geen eksterne wese aanbid nie, ten spyte van die feit dat mense dink ons aanbid die duiwel. Satanisme is ’n pad van selfstudie eerder as aanbidding. Ons glo nie aan satan of die bestaan van ’n duiwel nie. Satan word as ‘n argetipe gesien, wat mens se natuurlike instinkte verteenwoordig,” het hy destyds gesê.
Lees die vorige onderhoud hier.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.



