Leraar van satanistiese kerk sê daar bestaan nie iets soos “katte slag” nie

Deel hierdie storie / Share this story

Riaan Swiegelaar (39) is mede-stigter en waarnemende leraar van die heel eerste satanistiese kerk in Suid-Afrika, die SA Satanic Church.

Swiegelaar self kom uit ‘n sterk Christelike agtergrond en het die Christen-geloof 16 jaar gelede verlaat. Sedertdien, vertel hy aan FiND iT, was hy baie soekend. 

Spiritualiteit en geloof

“Ek het in spiritualiteit en geloof belanggestel, maar nooit tuis gevoel nie. Vyf jaar gelede het ek die satanistiese bybel vir die eerste keer gelees. Ek het myself onmiddellik daarin herken. Ek was altyd baie ontevrede met hoe satanisme in die media uitgebeeld word. Ek het die laaste vier jaar baie sataniste leer ken en dis van die opregste mense wat ek in my hele lewe ontmoet het. Ek het altyd gehoop iemand sal ’n kerk stig, maar het later besef ek sal moet leiding neem vir dit om te gebeur.”

Aanbid glad nie die duiwel

Swiegelaar sê sataniste aanbid nie die duiwel, soos wat uitgebeeld word nie. “Satanisme verskil in die opsig dat ons geen eksterne wese aanbid nie, ten spyte van die feit dat mense dink ons aanbid die duiwel. Satanisme is ’n pad van selfstudie eerder as aanbidding. Ons glo nie aan satan of die bestaan van ’n duiwel nie. Satan word as ‘n argetipe gesien, wat mens se natuurlike instinkte verteenwoordig.”

So, waarin glo sataniste dan?

“Hoofsaaklik en eerstens glo ons in onsself. Ons glo ook dat die aardse lewe / bestaan die fokus moet wees en sentraal moet staan in enige strewe na selfvervulling.”

Hy het die eerste keer Satanisme “ontdek” toe hy met die filosofie kennis gemaak het. “Asook toe ek met ander sataniste begin gesels het. Ek het antwoorde gekry op vrae wat nog altyd vir my belangrik was.”

Doen ook troues

Swiegelaar sê hy is baie trots op die kerk en dat dit die eerste in Suid-Afrika is. “Dit is so ’n groot wen vir godsdienstige pluralisme in SA, maar ook vir die sataniese gemeenskap. Ons is twee mede-stigters en verteenwoordigers (wat ook die openbare gesigte is vir SASC), asook vyf borge. Daar is dus sewe mense op die SASC-raad. Dan het ons lede regoor Suid-Afrika. Ons kerkkantoor is in Century City en ons het hoofkwartiere in Pretoria en Port Elizabeth. Ons maak in die tweede helfte van die jaar in Durban en Bloemfontein ook oop. Ons doen sataniese bybelstudie, groeprituele (vir nou aanlyn gedurende lockdown), asook troues en rituele vir die verbetering en bemagtiging van ons lede.”

Swiegelaar sê hulle “slag nie katte” soos wat baie mense dink nie. “Nee. Ek ken baie (letterlik honderde) sataniste, party is al vir meer as 20 jaar by satanisme betrokke. Nog nooit het enige van ons aan so iets deelgeneem nie. Dit staan ook baie duidelik in die sataniese bybel dat ons geen offer van mense of diere goedkeur, of praktiseer nie. Dit is steeds een van die grootste mites oor satanisme tans.”

“Ek sal graag vir mense daarbuite wil sê ons is nie freaks nie. Ons is julle bure, dokters, polisiemanne, akteurs, onderwysers, kunstenaars, tuiniers en huishulpe.”