Nog twee Covid-19-gevalle in die Noord-Kaap

Deel hierdie storie / Share this story

Dr. Zwelini Mkhize, die minister van gesondheid, het gister nóg twee gevalle van Covid-19 in die Noord-Kaap bevestig.

Volgens Lebogang Majaha, woordvoerder van die departement van gesondheid in die Noord-Kaap, is een van dié twee gevalle ‘n 49-jarige vrou wat in die Sol Plaatje-munisipaliteitsdistrik woon. Die tweede geval is ‘n 31-jarige man wat in die ZF Mgcawu-distrik woon.

Hy sê daar is ook ‘n 84-jarige vrou wat in die Namakwa-distrik woon wat in ‘n hospitaal in die Wes-Kaap opgeneem is. Sy was verkeerdelik as ‘n geval in die Wes-Kaap aangemeld, maar is nou by die Noord-Kaap-statistieke gevoeg.

Die totale aantal persone wat in die Noord-Kaap positief getoets het, is 95. Van hierdie 95 gevalle is 34 van die virus genees en een is oorlede. Daar is dus nou 60 aktiewe gevalle van die virus.