Man vermoor ma en dogter gedurende beurtkrag

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Man is 25 jaar se tronkstraf opgelê nadat hy skuldig bevind is aan moord op ‘n ma en dogter gedurende beurtkrag.

Steven Boucher (38) het skuldig gepleit in die hooggeregshof in Pietermaritzburg vir die moorde op Rita Westfahl (76) en haar dogter, Carol Lesley Westfahl (58), in Mei 2022.

Boucher het ook skuldig gepleit op die aanklag van diefstal.

Boucher het glo op die dag van die voorval drie liter bier by sy huis in Thornville gedrink, voordat hy na die Oribi-omgewing is waar hy vir ‘n vriend gaan kuier het.

Sy vriend was nie by die huis en hy het by Rita en Carol gaan kuier. Hulle ken mekaar glo al 15 jaar. Nadat hulle ook ‘n paar biere gedrink het, was hy te dronk om te bestuur en het hy gevra om daar te oornag.

In sy pleidooi het hy gesê hy was kombuis toe om water te gaan drink en het iemand agter hom gevoel.

“Sonder om te kyk wie dit is, het ek ‘n mes uit my gordel getrek en Rita twee keer in die nek gesteek. Dit was beurtkrag en pikdonker.”

Boucher het paniekerig geraak en besluit om weg te hardloop, maar op pad uit in Carol vasgehardloop.

“Uit vrees dat sy my kon identifiseer, het ek besluit om haar ook dood te maak. Ek het haar met die mes gesteek.”

Boucher het met Rita se motor na Durban gevlug waar hy op die strand gebly het. Hy is in ‘n supermark in hegtenis geneem toe ‘n beampte hom herken het as ‘n verdagte wat gesoek word.

Boucher is tot 15 jaar gevangenisstraf vir Rita se moord, 25 jaar gevangenisstraf vir Carol se moord en vyf jaar gevangenisstraf vir diefstal gevonnis.

Hy sal altesaam 25 jaar gevangenisstraf uitdien.

In die vonnisoplegging was die hof van mening dat hy ‘n eerste oortreder is met geen vorige of hangende veroordelings nie.

Hy was ook berouvol en het die owerhede gehoorsaam.