Werker per ongeluk 286 keer sy salaris betaal, bedank en verdwyn met geld

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Chileense werker is per ongeluk in Mei 286 keer sy salaris betaal.

Hy het belowe om die geld wat hy te veel betaal is, terug te gee, maar het eerder besluit om uit sy werk te bedank en het verdwyn.

Die geheimsinnige man het glo by Consorcio Industrial de Alimentos (Cial) gewerk, ‘n maatskappy wat kouevleis in Chili vervaardig.

Weens ‘n klerklike fout het die onderneming hom 165 398 851 Chileense pesos (R2,9 miljoen) betaal in plaas van sy gewone 500 000 pesos (R8 918).

Verbasend genoeg het die man sy werkgewer ingelig oor die fout op sy betaalstrokie voor hy verdwyn het.

Met die nagaan van hul betaalstaatrekords, het Cial bevestig die werknemer het 286 keer sy loon gekry.

Hierna het hulle hom gekontak en gevra om die oortollige geld terug te gee. Die man het glo ingestem en gesê hy sal met sy plaaslike bank reël.

Dit blyk egter dat hy ander planne gehad het. Cial het gewag vir die terugbetaalde bedrag, maar het nooit ‘n kennisgewing van die bank gekry nie.

Hulle het probeer om weer met die werker in aanraking te kom, maar die pogings was tevergeefs. Die werknemer het later wel die maatskappy gekontak en weereens belowe hy sal met die bank reël.

Op 2 Junie het hy egter sy bedanking ingedien en verdwyn. Cial het regstappe teen hom gedoen in ‘n poging om die geld terug te kry.

Bronne: MSN, IOL, Cape Talk

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.

Lees ook: Bekende trofeejagter in kop geskiet in vermeende huurmoord