Twee tweelinge van Mpumalanga brand dood

Deel hierdie storie / Share this story

Die polisie in Mpumalanga ondersoek die dood van twee stelle tweelinge van onderskeidelik agt en 13 jaar oud na hulle Maandagoggend vroeg doodgebrand het.

Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, sê die polisie het inligting ontvang oor ‘n woning wat in die Marikana- informele nedersetting aan die brand is.

Die brandweer het die brand geblus en die liggame van twee tweelinge, twee seuns en twee meisies, in die woning gevind.

“Dit is nog nie bevestig wat die brand veroorsaak het nie,” sê brig. Mohlala. “Los kabels was op die grond sigbaar en dit dui daarop dat daar moontlik ‘n onwettige konneksie vir elektrisiteit was.”

Die tweelinge se 33-jarige ma het hulle glo drie dae gelede onder hulle 17-jarige broer se toesig gelos.

Die broer het glo probeer om sy sibbe te red, maar die vuur was reeds te groot.

Die ma en die 17-jarige is na die hospitaal in Middelburg geneem waar hulle behandeling vir skok ontvang.

Die polisieondersoek duur voort.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.