Die “mees gesoekte krimineel” in Kaapstad het vandag uiteindelik in die hof verskyn. Hy het die polisie glo vir jare ontduik.
Yanga Nyalara (30) het altesaam 31 aanklagte vir verskillende misdade teen sy naam, waarvan ses moordsake is waartydens 19 mense dood is.
Kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, sê die polisie het sedert 2016 na Nyalara gesoek voor hy vandag in die Kaapstadse landdroshof verskyn het.
Nyalara is verlede week in hegtenis geneem na hy glo in die besit van dwelms ter waarde van R90 000 gevind is.
Die polisieminister Bheki Cele en lt.genl. Thembisile Patekile, polisiekommissaris in die Wes-Kaap, het ook die hofverrigtinge bygewoon.
Van die ander sake wat Nyalara teen hom het, is poging tot moord, roof en die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie.
“Die SAPD wil graag sy waardering toon aan die publiek wat waardevolle inligting beskikbaar gestel het en ons help om ‘n veiliger omgewing vir gemeenskappe te skep deur genadelose kriminele te verwyder,” eindig kol. Traut.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.



