Sewe mense is Saterdagoggend onherkenbaar in ‘n ongeluk op die R61-pad tussen Aberdeen en Beaufort-Wes verbrand.
Die ongeluk het Saterdag sowat 20 kilometer na Beaufort-Wes in die Wes-Kaap plaasgevind.
‘n Woordvoerder van die Oos-Kaapse departement van vervoer en veiligheid, Unathi Binqose, sê ‘n ligte voertuig wat van Beaufort-Wes in die Wes-Kaap na Aberdeen in die Oos-Kaap op pad was, het omgeslaan nadat die bestuurder glo beheer verloor het.
Die voertuig het toe aan die brand geslaan en al sewe insittendes, wat drie kinders ingesluit het, het doodgebrand.
Die oorsaak van die ongeluk is in hierdie stadium onbekend. Die polisie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag.




