Corrie Pretorius, wat in hegtenis geneem is na hy glo ‘n 16-jarige by ‘n vis-en-tjips-winkel in Groblersdal aangerand het, se borgaansoek is van die hand gewys.
Pretorius (42) sal nou tot 6 September in aanhouding bly, berig News24, wat by die hofverrigtinge was.
Lt.-genl. Thembi Hadebe, die provinsiale kommissaris van die polisie in Limpopo, sê die man is in hegtenis geneem na die video van ‘n 16-jarige seun wat aangerand en met ‘n vuurwapen gedreig is, wyd op sosiale media gedeel en onder die polisie se aandag gebring is.
Die voorval het op 15 Junie omstreeks 18:30 plaasgevind.
Die suster van die seun het die video ná die voorval op Instagram gedeel en ook gevra dat mense hulle moet help om die video te versprei.
Sy het intussen in ‘n opvolgplasing gesê:
“Die hartseer saak wat ons harte gebreek het, nie net as familie nie, maar swartmense in die land, is aan die polisie gerapporteer en word tans ondersoek.”
Volgens die polisie is die 16-jarige seun na die voorval na die hospitaal geneem waar hy behandeling ontvang het en later ontslaan is.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.



