101-jarige voormalige Nazi-tronkbewaarder kry tronkstraf

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Duitse hof het Dinsdag ‘n 101-jarige pensioenaris en voormalige Nazi-konsentrasiekampbewaarder, tot vyf jaar tronkstraf gevonnis vir sy aandeel in die moorde op 3 518 gevangenes.

Josef Schuetz, die oudste persoon wat al in die hof was oor die oorlogsmisdade tydens die Holocaust, het tussen 1942 en 1945 as ‘n tronkbewaarder by die Sachsenhausen-konsentrasiekamp gewerk.

Daily Mail berig ten spyte van sy vonnis, is die kans dat hy die tronkstraf sal uitdien, weens sy ouderdom, baie skraal.

Schuetz het onskuldig gepleit en gesê dat hy “absoluut niks gedoen het nie” en nie geweet het van die grusame misdade wat by die kamp gepleeg is nie.

“Ek weet nie waarom ek hier is nie,” het hy gesê.

Aanklaers het egter aan die hof gesê Schuetz het “wetend en bereidwillig” deelgeneem aan die moord op 3 518 gevangenes wat by dié kamp dood is.

Schuetz sal na verwagting ‘n mediese ondersoek ondergaan sodat daar vasgestel kan word of hy wel tronk toe kan gaan.

Hy was in sy vroeë twintigs toe hy as bewaarder gewerk het.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.