‘n Ma en dogter is van moord aangekla nadat hulle na bewering ‘n onwettige boudinplanting op ‘n vrou uitgevoer het. Die vrou het intussen gesterf.
Die vroue wat van moord aangekla word, was nie gelisensieer om die operasie uit te voer nie, berig die Daily Mail.
Karissa Rajpaul (26), oorspronklik van Durban, het in 2016 na Los Angeles verhuis.
Rajpaul wou graag ‘n sosialemedia-beïnvloeder word wat nie net haar lyf ten toon stel nie, maar ook haar geheime deel oor hoe sy haar voorkoms so kry.
In ‘n video wat sy self op haar selfoon geneem het, lê Rajpaul op haar maag om haar volgelinge presies te wys wat gebeur. Sy wou glo gehad het mense moet sien hoe haar boude in ‘n kunswerk omskep word – soos die gewilde realiteitster Kim Kardashian.

Maar, wat haar volgelinge nie geweet het nie, is dat die prosedure nie in ‘n teater uitgevoer is nie, maar in iemand se huis.
Die prosedure het so skeefgeloop dat twee vroue, Libby Adame (52) en haar dogter, Alicia Galaz (23), deur ‘n klag van moord in die gesig gestaar word. Rajpaul is drie ure na die derde inplanting op 15 Oktober 2019 oorlede.

Foto: IOL
Nie een van die twee beskuldigdes is mediese dokters nie en die middel waarmee hulle Rajaul ingespuit het, is glo geskik vir bouterreine en nie ‘n menslike liggaam nie.
Na ‘n ondersoek is bevind dat die twee vroue haar met ‘n vloeibare silikoonmengsel ingespuit het wat gebruik word om vensters te seël. Dit het haar bloedstroom binnegedring en verskeie blokkasies veroorsaak wat tot hart- en nierversaking gelei het.
Rajpaul en haar vervreemde man, Marco, het van Durban na Los Angeles verhuis nadat sy ‘n miskraam gehad het en hul ‘n nuwe begin wou maak, het hy aan Rolling Stone vertel.
Dis hier waar sy toe die aandag van ‘n agent getrek het en hy voorgestel het dat sy begin privaat dans by partytjies. Rajpaul het begin om meer aandag aan haar voorkoms te gee en ook planne gehad om in die volwasserolprentbedryf te werk.
Marco was nie baie gelukkig met haar keuses nie, veral toe sy begin het om kosmetiese chirurgie te ondergaan om meer aandag te trek. Dit het soveel konflik tussen hulle veroorsaak dat Marco haar in 2017 vir ‘n egskeiding te dagvaar, maar hy het ‘n jaar later besluit om hul huwelik nog ‘n kans te gee.
Teen daardie tyd het Karissa al lipvullers gehad. Sy het toe al aan Marco genoem dat sy ‘n Brasliliaanse boudligoperasie wil laat doen om soos haar heldin Kim Kardashian te lyk.

Sy kon nie ‘n gelisensieerde dokter vir die prosedure, wat R240 000 gekos het, bekostig nie.
Sy het die twee vroue op Instagram ontmoet. Hulle het erken dat hulle haar net R63 700 vir die drie prosedures sou vra.
Alles het volgens ‘n anonieme vriend van Karissa goed verloop, al het sy met tye gesukkel om te fokus en haar bewussyn verloor.
Toe haar toestand nie verbeter nie, het die vriend paramedici gebel, waarna die twee vroue gevlug het.
Dokters was uiters geskok toe hulle bevind het daar lek silikoon uit Rajpaul se boud. Volgens dr. Aj Khalil, ‘n plastiese chirurg in Beverly Hills, is dit onwetting en gevaarlik om vloeibare silikoon in ‘n boud te spuit, berig die Daily Mail.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.



