Sewentien van die minderjariges se liggame het in die taverne gelê. Twee ander is by ‘n plaaslike kliniek oorlede. Nog een is in ‘n hospitaal dood.
Altesaam 21 tieners is die naweek by ‘n taverne in die Oos-Kaap onder raaiselagtige omstandighede dood.
Kol. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, het aan FiND iT bevestig die polisie ondersoek die saak ná hulle Sondagoggend omstreeks 04:00 ‘n oproep ontvang het oor die dood van tieners by die Enyobeni-taverne.
“Nege van die oorledenes is vroulik, en twaalf is manlik,” sê kol. Mathe. “Die polisieminister, Bheki Cele, was Sondagmiddag op die toneel en hy het met plaaslike inwoners en van die oorledenes se ouers gepraat.”
“Minister Cele het ‘n beroep op inwoners en die families van die oorledenes gedoen om die polisie toe te laat om met die ondersoek voort te gaan.”
Intussen het die Oos-Kaapse drankraad aangekondig dat hy ‘n klag gaan lê teen die eienaar van die taverne oor die “blatante oortreding” van die drankwet.
Die jongste slagoffer was na bewering 13 jaar oud.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.



