Steve Hofmeyr, wat vroeg dié week in die hospitaal opgeneem is vir toetse vir varkgriep, sê varkgriep is vir hom erger as Covid-19.
Die gewilde kunstenaar het in 2021 ook positief getoets vir Covid-19.
“Kyk, as dit in die lug is, kry ek dit,” sê hy. “As jy varkgriep het, sal jy weet waar kom die naam vandaan.”
Hy sê hy vermoed dat hy al lankal varkgriep het en beskryf simptome soos naarheid en ander griepsimptome. Sy dogtertjie, Romy-Lee, is ook siek.
“Nursie Janine hol weer rond agter haar snotterende, proesende pasiënte.”
“My suurstofvlakke is darem tops, maar my kop is in ‘n vice–grip geklem en die res is maar griep.”
Hy sê ook dankie aan sy volgelinge en ondersteuners vir die boodskappe wat hom ‘n spoedige herstel toewens.
“Ek hou nie van selfbejammering nie en sal jou die uurlikse opdatering, soos met Covid, spaar. Maar elke gesondword-nota maak my sterker. Dankie. Rêrig.”



