Solidariteit verwelkom opheffing van Covid-regulasies

(Foto: Solidariteit)

(Foto: Solidariteit)

Solidariteit het vandag die opheffing van die omstrede gesondheidsregulasies deur die minister van gesondheid, dr. Joe Phaahla, verwelkom. Dit volg nadat Solidariteit Maandag 20 Junie in ʼn skrywe aan die departement van gesondheid gestel het dat hy aansoek vir ʼn strafkostebevel teen die regering sal doen indien die regulasies nie voor Solidariteit se hofsaak teruggetrek word nie.

Solidariteit, AfriForum en ander belangegroepe het die regering oor dié regulasies hof toe geneem. Die opheffing van die regulasies bring ʼn einde aan die verpligting vir die dra van maskers binnenshuis, beperkings op getalle in stadions en teaters sowel as reisbeperkings na Suid-Afrika.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, verduidelik as volg: “Daar was nie ʼn manier wat die regulasies ʼn regstoets in die hof sou slaag nie. Die regulasies was van die begin af in sonde gebore. Dit het die absurde situasie geskep waar die Suid-Afrikaanse publiek om 23:00 die nag nog steeds nie geweet het wat hulle die volgende oggend sou begroet nie. Dit was totaal onaanvaarbaar en het gedreig om die uiters skadelike verskynsels gedurende die ramptoestand, van sogenaamde familievergaderings en “met onmiddellike effek”, permanent te maak.”

Volgens Solidariteit het die regering geen ander uitweg gehad as om die regulasies voor hulle verskyning in die hof terug te trek nie. Solidariteit stel verder dat dit nou die tweede keer is wat die regering skielik regulasies ophef voordat dit deur Solidariteit voor die hof gedaag word.

“Net soos die ramptoestand was hierdie regulasies ook irrasioneel en onregmatig. En net soos die afskaffing van die ramptoestand op 5 April 2022 het die regering dit besef en wou hulle die hofsaak ten alle koste vermy. Die regulasies was prosedureel en substantief onregmatig. Ons verwelkom natuurlik die terugtrek daarvan, maar die regulasies moes in die eerste plek nie daar gewees het nie. Ons vertrou dat die regering nou uiteindelik hulle les geleer het in terme van die gevolge van onredelike inperking van burgers se regte,” sluit Hermann af.

Leave a Reply

Your email address will not be published.