’n Durbanse polisiebeampte wat na bewering sy 12-jarige seun doodgeskiet het nadat hy hom vir ’n indringer aangesien het, is in hegtenis geneem en sal na verwagting Dinsdag in die Durbanse landdroshof verskyn.
Die voorval het die naweek by Greyville plaasgevind.
Volgens die Onafhanklike Polisie Ondersoekdirektoraat (OPOD) is die saak sensitief en ondersoeke duur voort. Lizzy Suping, nasionale woordvoerder van OPOD, sê die beampte het Sondagoggend in sy huis geslaap toe hy na bewering sy seun hoor skree het vir hulp, berig SABC News.
Sy sê hulle ondersoek die saak waar ‘n polisiebeampte die minderjarige noodlottig met ‘n dienspistool gewond het.
“Daar word beweer dat ‘n man Sondagoggend by Manor Gardens gehoor het hoe sy seun om hulp skree terwyl hy geslaap het. Toe hy wakker word, het hy ’n onbekende man by die venster gesien. Hy het sy dienspistool gaan haal en skote deur die venster afgevuur,” het Suping verduidelik.
Polisiewoordvoerder, Jay Naicker, sê beamptes van die Greyville-polisiestasie is na die toneel ontbied en die kind is na ‘n nabygeleë hospitaal geneem.
“Hy is na ‘n plaaslike hospitaal vervoer waar hy met sy aankoms dood verklaar is. ’n Saak van moord is deur die Mayville-polisiestasie geopen,” voeg Naicker by.
OPOD sê ‘n nadoodse ondersoek word gedoen en die beampte sal na verwagting in die Durban-landdroshof op ‘n aanklag van moord verskyn.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.



