Woedende ANC-lede hou glo joernaliste en personeel aan

Deel hierdie storie / Share this story

’n Groep betogende lede van die African National Congress (ANC) van Noordwes het Vrydag die ingang en uitgange by Luthuli-huis, die party se amptelike hoofkwartier in Johannesburg, versper.

Hulle was glo nie tevrede met hoe takkwessies en die akkreditasieproses hanteer word voor hul provinsiale konferensie volgende week nie.

ANC-veterane het op Vrydag 17 Junie 2022 ‘n media-inligtingsessie gehou, toe partylede van Noordwes opgedaag het en die twee ingange versper het, wat hulle (die veterane) en joernaliste vasgekeer het.

Dit was nie lank nie of wetstoepassers sowel as private sekuriteitsbeamptes het ingegryp en die groep van die ingange weggeskuif.

Pule Mabe, ANC-woordvoerder, gaan glo die ontevrede groep betrek. Dit blyk dat die drama deur die woedende ANC Noordwes-lede minstens ‘n week lank aan die broei was.

Volgens IOL is die groepering in lyn met die RET-faksie (Radikale Ekonomiese Transformasie), wat daarop gemik is om die partypresident Cyril Ramaphosa by die komende verkiesingskonferensie in Desember te ontsetel.

Die faksiegroep is glo woedend oor Ramaphosa se roofskandaal en eis dat hy uittree terwyl die betrokke owerhede ondersoek instel.

Die voormalige spioenbaas Arthur Fraser het verlede week kriminele klagte teen Ramaphosa gelê en beweer hy het die diefstal van R62 miljoen wat op sy plaas in Phala Phala, Limpopo aangehou is, versteek.

Hy beweer ook dat die verdagtes ontvoer en ondervra is, voordat hulle geld vir hul stilswye aangebied is. Ramaphosa het erken daar was ‘n rooftog op sy eiendom, maar ontken dat hy krimineel aanspreeklik is en sê die gelde wat gesteel is, was opbrengs uit die verkoop van beeste op sy plaas.

Die Demokratiese Alliansie (DA) het gesê hy sal aan die Kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) skryf om tot die kern van die kwessie te kom.

John Steenhuisen, opposisieleier, het gesê hy wil hê die SAID moet ondersoek of die $4 miljoen verklaar is en hy wil hê die SARB moet vasstel of die geld verband hou met moontlike geldwassery.

Bronne: MSN, IOL, EWN

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.

Lees ook: Deel van liggaam spoel by Cuttings Beach, KZN, uit