Drie vermeende bendelede het in die Wes-Kaapse Hooggeregshof verskyn in verband met die moord op ‘n driejarige in Heather Park, Eersterivier, en die daaropvolgende moord en poging tot moord op getuies.
Oswin Conradie, Heinrich Louis en Irwin Snel het in ‘n voorverhoor verskyn waar die staat versoek het dat die drie saam aangekla word ingevolge die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (POCA), aangesien hulle daarvan aangekla word dat hulle die misdrywe gepleeg het ter bevordering van kriminele aktiwiteite van die Beach Cats-bende.
Conradie is in Augustus 2020 in hegtenis geneem en aangekla van die moord op die driejarige Marilyn Adams, wat tydens ‘n bendeverwante skietery op 28 Julie 2020 dood is.
Marilyn het saam met haar ouers buite gesit toe gewapende mans by hul huis in Normandiestraat losgebrand het. Die gesin het na binne gehardloop om skuiling te soek en het ontdek die kleuter is in die kop geskiet.
Conradie is gearresteer en uit aanhouding vrygelaat nadat die saak van die rol geskrap is, maar is weer in September 2020 in hegtenis geneem. Hy het op 7 September 2020 in die Blue Downs-landdroshof verskyn vir die moord, en later ‘n borgtogaansoek gebring wat deur die landdros geweier is.
Die staat het gesê ná die borgtogweiering van die leier van die bende, het Louis en Snel gepoog om die getuies van die driejarige se moord dood of bang te maak.
Die staat is van mening dat hierdie dade ‘n manier was om getuies stil te maak en te intimideer om te help in Conradie se saak, wat in daardie stadium verhoorafwagtend was.
Ná Marilyn se moord het die staat aan die hof voorgestel dat die moord op die 15-jarige Christy Meiring en die poging tot moord op twee ander persone (wat nie genoem kan word nie) op 6 November 2020 gepleeg is om getuies stil te maak.
Hierdie voorval is op 11 November 2020 opgevolg toe daar ‘n aanslag op die lewe van die persoon, wat gesien het hoe beide Marilyn en Christy vermoor is, was.
Regter Robert Henney het teen die POCA-klag beswaar gemaak en die voorgestel Snel en Louis moet aangekla word vir hul aandeel om Conradie na bewering by te staan om die gereg te ontduik na die moord op die kleuter.
Staatsadvokaat Nathan Adriaanse was egter vasberade dat die optrede van Louis en Snel was om die bedrywighede van die bende te bevorder in ooreenstemming met die moordbewerings teen Conradie.
Adriaanse het egter aan regter Henney se siening toegegee en aangedui dat die staat die akte van beskuldiging sal wysig.
Die verhoordatum is nog nie bepaal nie, maar die staat het ‘n datum in Maart volgende jaar voorgestel waarop die saak sal voortgaan.
Bronne: IOL, MSN, Cape Argus
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.
Lees ook: Soektog na die 6-jarige wat in ‘n mangat geval het, duur voort



