Bejaarde al meer as ses weke vermis

Deel hierdie storie / Share this story

Die 68-jarige Jan Grobler is al sedert 2 Mei vanjaar vermis en sy familie is rasend van kommer. Dit was gister ses weke sedert sy verdwyning.

Leon Beyleveld sê sy oom was laas by die Busy Bee Hospice in Vanderbijlpark gesien. Hy het die hospice omstreeks 12:00 verlaat. “Die hospice het my ma eers op 4 Mei laat weet van sy verdwyning.”

Hy sê Grobler het die Sondag voor sy verdwynig nog by sy ma gekuier.

Beyleveld sê hulle het al pamflette uitgedeel, sy foto’s op sosiale media gedeel en dat hulle graag die storie so wyd moontlik wil versprei. “Die polisie het ook al by die hospitale en lykshuise gaan kyk, maar dis asof hy net skielik verdwyn het. Daar is geen spoor van hom nie.”

Grobler het ‘n baadjie met wit en grys strepe, ‘n grys sweetpakbroek en wit tekkies aangehad toe hy verdwyn het. “Ons vermoed dat hy dalk tekens van demensie toon. Hy is nie gediagnoseer nie, maar telkemale as hy by my ma kom kuier het, was hy ‘n bietjie deurmekaar. En ons vermoed dat hy deurmekaar geraak het en dis hoe hy weg is.”

Enigiemand met inligting kan die polisie by 016 910 9000 skakel, of met die Pink Ladies in kontak kom by 083 500 8228.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.