Soektog na 6-jarige in oop mangat

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Soektog is aan die gang na ‘n 6-jarige seun wat in ‘n oop mangat in Soweto geval het. Johannesburgse noodpersoneel het Maandag die soektog begin nadat die kind se verdwyning aangemeld is.

Daar word beweer dat die seun saam met sy vriende in Soweto se Dlamini Park gespeel het toe hy in die gat geval het.

Die saak is by die polisie en Johannesburg Water aangemeld. Johannesburg Water se Seipati Nyawuza het bevestig dat hulle van die voorval ingelig is.

“Die betrokke owerhede van SAPD en EMS is ter plaatse en doen ‘n soektog om die liggaam te herwin. Besonderhede oor die verwikkelinge sal gekommunikeer word soos die soektog vorder,” het sy bygevoeg.

Nyawuza het die gemeenskap gevra om amptenare toe te laat om hul werk uit te voer en die gesin ruimte te gee gedurende hierdie tyd.

Die seun se pa het gesê hulle bid dat hulle sy seun se liggaam kry. Hy het met eNCA gepraat en gesê inwoners het by die familie aangesluit in hul soektog na die kind se liggaam.

Bronne: IOL, MSN, News24

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.

Lees ook: Pediater se skorsing opgehef na hewige reaksie van mediese gemeenskap